Animal en Masjien

Daar’s ’n legende in Stellenbosch van twee pêlle wat saans die strate gefynkam het, opsoek na die volgende….BRANNEWYN SPECIAL.

Die legende lui so… dat wanneer daar ‘n bakleiery was, hulle dit op ‘n veilige afstand dopgehou het…met ‘n yskoue brannewyn in die hand, en nog een oppad!
Op die jeugdige ouderdom van 26 besluit ek toe om weer student te word. By Stellenbosch natuurlik, een van my redes, is die nat winters. Ek speel selfs weer rugby, in die eerstejaarstoernooi, druk tot ‘n drie op die befaamde Danie Cruywen stadion! Ek was ook die eerste eerstejaar wat uit die eerstejaarstoernooi geskors was weens ‘n te hoë ouderdom, die afsnypunt is 25 jaar oud!

Maar die lewe van die nag en sosiaal wees het my gou ingehaal en my studentwees het nie lank gehou nie. Ek het wel begin om venesiese blindings te installeer en verkoop, steeds in Stellenbosch. Dit is in daardie tyd wat ek eerste met die verskynsel, DIE MASJIEN te doen gekry het.

Die Masjien:

Op die oog af ‘n normale persoon soos ek en jy. Daar is wel ‘n paar verskille in sy mondering wat nie op die oog af sigbaar is nie wat hom van ons onderskei.

Eerstens, hy kan drie girls besig hou op die dansvloer, heel aand! Hy is mal oor dans! Jammer vrouens wat nou jaloers is omdat hulle mans nie baie of enigsins dans nie, hy is klaar gevat!

Tweedens, as ‘n werkende man in die IT afdeling van ‘n groot maatskappy, kon hy meeste aande van die week tot laaste van almal kuier, en betyds en hangover-vry op sy pos wees, elke dag!

Die Animal:

Sy naam vanweë die feit dat hy soos een kan partytjie hou… Die skrywer, nie veel meer daar te sê nie…

Die Masjien en die Animal se paaie het êrens in die naglewe van die dorp gekruis en die vennootskap was suksesvol. Die strate van Stellenbosch het ons name leer ken.

Daar was natuurlik ook die ander vennote wat die Animal deur die Masjien leer ken het;

Don-G, G-Unit, Soutie, Ciffie, THE BRAND (a.k.a Mr. Black Label) en die girls.

Een van die groepie se gunsteling kuierplekke was Denim & Diamonds se Cocktail Bar. Die Masjien het daar begin werk as ‘n assistent bestuurder, want hy kuier in elk geval meeste van die tyd daar, hoekom nie betaal word daarvoor nie? Die Animal se geldjies by die blindings werk het nie sy sosiale gewoontes genoeg aangevul nie, en hy het ook daar ingeval. Later was dit die Animal se permanente werk en die Masjien het weer maar net daar kom kuier en uitgehelp op besige aande.

Die Vrydag middae wat die manne daar kom lunch het……en tot toemaaktyd die volgende oggend gebly het word nou nog van gepraat.

In hierdie tyd het die Animal en Masjien die golf gery van die sosiale strukture in die Eikestad, ons het nie nodig gehad om in rye te staan om in te gaan by ander soortgelyke plekke nie, en ons het van brannewyn special na brannewyn special geswerf soos sosiale sigeuners… soos sosiale flinders.

Denim & Diamonds, die (nag)klub van melk en heuning, soos gedoop deur die skrywer, was die middelpunt van ons sosiale eiland. Dit is hier waar daar soveel wonderlike stories en gebeurtenisse plaasgevind het.

Die aanvanklike hoof bestuurder, Jean, het die briljante idee gehad om die badkamers die skoonste te hou in die hele Stellenbosch. Dit was geniaal, want die plek het uit sy nate gebars as gevolg daarvan! En waar daar skoon badkamers is is daar mooi meisies, en waar daar mooi meisies is, is daar ouens, want ouens soek drank en dan meisies, in daardie volgorde.

Dan was daar ook die kroeg manne, ouens soos ons, en meeste van hulle het nie voorheen as kroeg manne gewerk nie. Dit was net so ‘n goeie besluit want die ouens het minder bottels gegooi (Masjien het nou en dan vlamme geblaas) en meer drank aan hulle vriende verkoop, want as jou vriend by Denims gewerk het, het jy outomaties iemand agter die kroeg geken, en outomaties jou pêl kom ondersteun so… briljant!

Tequila vir kroeg manne aan die begin van die aand, is soos Energade of energie aanvullings vir fietsryers en drawwers. Silwer-bullets was ons poeding, Jägermeister was soos Simba Chips by ‘n braai en Sprinbokkies soos lekkers vir ‘n kind vir ons gewees. The Wern, Die broers Wahlrus & Louis, Priester, Schutz, Peanut, Does en die Engelsman Matt (wat saam met my bestuurder was en meeste van die werk gedoen het), later het Mott by ons aangesluit as hoofbestuurder. Dit is maar net om n paar te noem.

Die VIP’s was nie noodwendig net Matie rugby spelers nie. Die VIP’s was die gereelde kliënte, die gewone ouens soos ek en jy, en hulle het nou ‘n plek gehad om VIP te wees. Nog een van Jean se idees waarop ek en die Engelsman voort gebou het. Daar was natuurlik die regulars wat so dan-en-wan die hoender geruk het, agter die kroeg ingeloop het en self geskink het, maar studente is nog jonk so net ‘n goeie uitkak en hulle is weer op goeie gedrag vir ‘n dag of twee ten minste…

Met die sukses het die bekendes as kliënte en besoekers natuurlik ook gevolg, kom kyk waaroor al die lawaai gegaan het. Dit is hier waar ek agter gekom het daar is drie lyne waaruit die samelewing bestaan.

Die boonste lyn: die bekendes, sportsterre, tv mense, invloedrykes, die elite. Die middelste lyn: gewone mense wat ook in al dieselfde plekke uithang en dinge doen as die boonste en onderste lyne se mense, maar onbewus van wat werklik gebeur daarbo en daaronder. Die onderste lyn is die onderwêreld, en dit is regtig soos in die flieks vol van regte onderwêreldse dinge, soos geweld, gewere, dwelms en dies meer.

Die middelste lyn is salig onbewus wat onder hulle neuse aangaan terwyl die wentelbane van die boonste lyn en onderste lyn mekaar gedurig kruis of saamloop vir ‘n tydjie en dan weer skei. So herhaal die proses homself deurentyd en die middelste lyn is heeltyd in ‘n beswyming van “normaliteit” vasgevang. Dit is scary om te sien en van te weet! Dit is nie SO sleg om in die middelste lyn te beweeg nie.

In hierdie tyd het die Animal en die Masjien hulle merk probeer maak op die strate van Stellenbosch. Dit is steeds onduidelik of die merke nog daar is en of dit ooit daar gelaat was. Die nuwe generasie Animals en Masjiens is nou daar bedrywig, gretig om hul merk te maak.

Ons vennootskap het in ‘n vriendskap verander, mekaar se strooi jonkers gewees. Ken mekaar se geheime en stories. Die res is ook almal al getroud, ons wag nog vir Don-G, maar hy het net te veel om te bied vir net een vrou.

My naam is KLASSIK en hierdie is my stories!

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *