Naald en Gare

… Haar eerste Januarie maand vakansie nadat sy weg is, het sy nog by ons kom kuier. Na klein Hilda-Marie se geboorte het sy nie weer gekom nie, net die pos….dit hou nooit op nie.

Ek’t haar nooit vertel nie, ek wou, maar sy’t my lankal gevra toe ons mekaar leer ken het dat ek moenie, maar ek wonder soms of ek nie dalk haar Ridder was nie….

Wel, dit is ‘n weergawe van die waarheid.

Ek en Hilda-Marie het altyd ‘n spesiale band gehad, van dag een af. Dit was soos ‘n onsigbare, onbreekbare garingdraad wat alles weer aanmekaar gewerk het as daar iets fout was met een van ons. Gewoonlik oor liefdes teleurstellings….

Sy het goed geweet hoe seer ek gehad het nadat sy weg is om met die Boer te gaan trou. Dit is nie iets waaroor ons gepraat het nie, maar die seer was daar, selfs in haar oë kon ek dit ook sien. Maar sy het haar besluit gemaak.

Daardie eerste Januarie vakansie nadat sy weg is, en kom kuier het…..

Sy was daar om vir ons almal, HAAR NOMMER EENS, te kom kuier. Een aand na baie wyn en almal wat gaan slaap het, het ons twee weer tot die bittereinde elke laaste druppel gesels en kuier uit die nag gewring het, soos ‘n vaddoek wat wyn opvee wat omgestamp is.

Sy’t gewag tot almal slaap en my toe vertel.

Die Boer het die gebruik van sy kroonjuwele verloor na erge bosluiskoors ‘n paar jaar gelede. En sy sit met daardie pannekoek van ‘n probleem, want sy het besluit sy wil ‘n mamma wees en wat Hilda-marie wil hê, dit kry sy gewoonlik.

Jy fassineer my! Was my woorde gewees dink ek, al wat ek kon uiter. Dis alles baie vaag. Toe het sy my gesoen…langer as vyf sekondes! Vyf sekondes het ons vriende besluit – is die afsnypunt waar ‘n soen meer is as net ‘n soen. Dié een keer het dit nie saakgemaak nie! Het ook nie daarteen baklei nie.

Die hele aand was soos ‘n droom. Soos twee skool vriende wat mekaar raakloop na 20 jaar en destyds té skaam was om te sê hoe hulle voel! Die vonke het gespat, ek het geweet dit is net een aand, en sy’t geweet ek weet. Die skool vriende was spyt hulle het nie daardie tyd gepraat nie.

Daar was natuurlik ‘n rede. Hilda-Marie wou ‘n mama word en die Boer kon haar nie help nie. Sy het hom toestemming gevra, en hy het dit gegee, sy kry altyd wat sy wil hê.

Nou kon ek éénkeer vir haar die stukke van haar hart met ons onbreekbare garingdraad aanmekaar werk. Gewoonlik was sy die een met die naald wat die skerwe vasgewerk het. Ek was bly ek kon haar help, dit het my vir ‘n wyle soos haar ridder laat voel. Op ‘n spierwit perd met ‘n spoggerige blink blik pak!

Klein Hilda-Marie het haar pa se oë gekry, haar ma se lippe, hande, kunstigheid, eintlik al die res van haar ma af. Sy het al ‘n paar vakansies by ons vriende kom kuier, haar ma het gesê sy moet ook leer om te leef soos ons in die stad, en dan die goeie van die platteland daarmee saam meng.

Sy noem my op my naam, ek het nooit gedink ek sal kinders grootmaak om my op my naam te noem nie, maar Hilda-Marie kry altyd haar sin. Behalwe slaaptyd, daar sit ek my voet neer!

My hart se skerwe is ook nou weer uiteindelik mooi aanmekaar gewerk, en die letsels daarop, maak my vir haar lief…

Ek het hierdie inskrywing (hoofstuk 5), en ook die vorige een (hoofstuk4) nie geskryf met hierdie storie in gedagte nie.

Hilda-Marie is die naam wat ek vir my nuwe kar gegee het. Die kar se lyne herinner my aan iemand genaamd Hilda-Marie. Die storie het maar net by my opgekom en vorm aangeneem soos ek aangeskryf het. ‘n Vriendin het gesê die storie kon nie net daar eindig in Hoofstuk 4 nie.

Die liedjie wat jy hier kan kyk en luister, Naald ‘n Gare, is geskryf nadat ek eendag sommer gedink het aan seerkry en hoe die hartseer en pyn eintlik soos’ n dwelm is waarin ons floreer, want ons WIL NET AANHOU SEER WEES! So asof ons nie wil vergeet nie.

Die lewe is gelukkig baie regverdig en ons kan herstel van meeste van die grootste pyn en smart wat ons as mense kan ervaar en uitdeel. Daar is natuurlik uitsonderings, maar die meeste van die tyd, met ondersteuning en genoeg tyd, vind ons harte ‘n manier om daarmee te “cope”. Daardie “cope” is soos letsels wat vorm op ons harte, maar die ondervinding maak ons ryker en sterker!

…………………As ons koppe net wil saamspeel!

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *