Soos Milo voor jy gaan slaap

Ek noem myself Klassik. En hierdie is Hilda-Marie se storie…

Hilda-Marie se pa het haar naam self gekies, hy het as platejoggie in die 70’s gewerk. Dit was die idiot se idee om haar te vernoem na ‘n bekende Oos-Europese ontklee-danseres wat hy een aand na sy skof gesien dans het by “The Chick ‘n Farm”…

Vrydae is vir Hilda-Marie die kleur maroon, soos haar geliefde rooiwyn, maar haar gunsteling is Milo, voor sy gaan slaap, soos haar Ma dit gemaak het……

Haar ma, ‘n assistent by ‘n materiaal winkel in die middestad, het altyd presies geweet hoe om haar te laat spesiaal voel en haar vertel hoe om alles om haar te waardeer. Elke bietjie detail in te neem asof dit die laaste iets is wat sy ooit sou sien of waardeer. Die resultaat was ‘n persoon wie se naam by haar moes aanpas en nie anders om nie.

Sy is uniek in elke moontlike manier denkbaar, haar hare, die manier waarop sy praat, hoe sy loop, waar sy bly, hoe sy eet, en hoe sy aantrek. Haar klerekas bestaan uit die “Salvation Army” se klerebank, met haar eie modifikasies daarop natuurlik.

Daar is iets omtrent haar wat haar onweerstaanbaar maak. Sy het nie pêlle nie, net vriende. Sy maak vriende oral waar sy gaan, for life, pelle kom en gaan. As sy êrens instap is dit soos ‘n ligte welkome briesie op ‘n snikheet somers middag. Asof tyd stil gaan staan.

As sy met jou praat is haar stem soos die “ahhhh lekker” gevoel van ‘n warmwatersak in die winter wat reeds jou bed warm gemaak het. Sy is spesiaal, so spesiaal vir die wêreld, soos haar ma se Milo vir haar was, met slaaptyd, met liefde gemaak.

Sy het op sestien reeds besluit sy is klaar vleis geëet, deels omdat sy nie van die idee hou dat diere moet seerkry nie, deels omdat sy dit nie regtig kan bekostig nie. Dit is duur om so uniek te wees, te bly, te loop en soos sy te dink en praat. Sy is lief vir plante en blomme, hulle kan jou nie seermaak nie en hou van baie liefde, daarom verkoop sy blomme!

Sy het net twee aandklasse bygewoon by die kuns-kollege se na-uurse program, een was ‘n skilder klas, en een oor digkuns. Sy het gesê daar was niks wat hulle haar kan leer wat sy nog nie weet nie, en die res wil sy elk geval self ontdek, ons los haar maar wanneer sy dit vertel, want sy het nie vir ‘n beurs of lening gekwalifiseer nie.

Sy is dus baie lief vir skilder en kort gedigte skryf, en gaan ook gereeld na kunsuitstallings en voorlesings van poësie en prosa by die universiteit en meng met die intellektuele reuse van môre wat die hipsters is van vandag. Sy is natuurlik altyd die middelpunt van elke voorlesing en kuns uitstalling, sy is mos so spesiaal soos Milo voor jy gaan slaap.

Daar was baie helde op wit perde wat haar wou kom red. Sy het so ‘n brose “asseblief kom red my” uitroepteken met haar persona saamgedra. Sy wil regtig gered word, deur ‘n regte egte ridder op sy wit perd, maar die perd moes regtig spierwit wees, en sy wapenrusting regtig blink! Haar onrealistiese verwagtinge en vereistes om gered te word, was haar enigste verweer teen die wolwe wat hulle as ridders kom voordoen het. Die regte ridder het eendag opgedaag…

Jan De Wet se ‘My nooi is in ‘n naartjie’ is een van haar tien gunsteling herinneringe of dinge. Dit was op haar eerste Desember vakansie. Dit was in Hartenbos waar sy oom Jan De Wet dit hoor sing het daar in die Walvis saal. Dit was ook haar enigste vakansie as kind, eintlik haar enigste regte vakansie tot 2005.

Die reuk van Nivia handeroom gemeng met die van uie aan haar Ma se hande is nog een, en sy het ook ‘n sewe bladsy gedig geskryf oor hoe die geur van naartjie skille kan vasklou aan jou vingers.

Die NG kerk in die middestad was vir haar ‘n geestelike hawe in die stormagtige see wat haar ouers se woonstel was. Die koster het haar altyd by die pannekoek tafel laat help met kermis tyd en seker gemaak daar is genoeg “flops” sodat sy haar daaraan kon verlustig. Al die ou pannekoek tannies het vir haar serpe en vingerlose handskoene gebrei en vir haar gegee as sy by hulle kom tee drink het in die ouetehuis oppad terug van die werk af en haar ou blomme in hulle voorportaal gerangskik het. Hulle is ook nog haar vriende.

Een ridder kandidaat wat baie naby gekom het aan die berg van “ewige geluk” wat Hilda-Marie is, het haar eenkeer na sy oupa se plaas naby Delmas geneem vir ‘n paasnaweek. Hulle het met die trein gery uit die Kaap, die reis het soos ‘n week gevoel. Die een middag was daar ‘n los reënbui waarna hul ‘n entjie gaan stap het terwyl sy ouma aandete reggekry het. Die reuk van die reën op die grondpad daardie middag, is haar nommer twee gunsteling herinnering. Want sy is spesiaal, soos Milo, voor jy gaan slaap.

Die derde keer wat ons gedink het diè is die een ridder wat haar sou kom red, het hy sy ware kleure gewys toe sy agterkom hy eet skelm hamburgers. As hy dit net nie weggesteek het nie, sou sy dit kon oorsien, maar as hy dit vir haar kon wegsteek en skelm vleis eet, wat nog sal hy nie kan wegsteek vir haar nie??

Daar is min materiële en wêreldse dinge wat Hilda-Marie aanstaan, maar die agtuur fliek, vyf-oor-agt elke Sondagaand, is die enigste tyd wanneer sy haarself oorgegee het aan die wêreld wat die res van ons in leef, so asof sy haarself daarvan wil verseker dat HAAR wêreld….in ‘n klas van sy eie is. Dit is!

Sy het kersvakansies altyd gaan geskenke toedraai by Stuttafords. Gespaar om elke Januarie by haar ouma in Queenstown te gaan kuier en om die krismis gees te kry – dis mos nie deel van haar wêreld of die riglyne waarvolgens sy lewe nie.

2005. Haar tweede vakansie ooit! Dis weer Desember vakansie, en ook die vakansie waar alles begin verander het. Na al die ‘pretenders’, en daar was baie, het geskikte ridder kandidaat nommer vier op die toneel verskyn. Dit is toe sy ja gesê het om sy vrou te word. Die helfte van die middestad se manne het ‘n roudiens gehou, blykbaar was daar soortgelyke byeenkomste in die noordelike en suidelike voorstede…..

Sonbrand olie op Desember vakansies herinner haar steeds daaraan. Dit is nommer nege op haar lys van gunstelinge.

Hy was nie perfek nie, maar perfek vir haar. Hy was nog jonk vir ‘n wewenaar, met die oulikste haasbek meisiekind! Die troue was sommer gou na haar Januarie kuier by haar ouma. Sy sien haar ouma nou meer gereeld, hy kom van Dordrecht in die Ooskaap af. Nie te vêr van Queenstown af nie. Boer daar met skape.

Sy hou vol, ons, haar vriende, is NOMMER EEN op haar lys van gunsteling dinge en herinneringe. Ons het haar maak belowe om kontak te hou, te skryf, en sy het. Kry nog met elke verjaarsdag en herdenking van ons top drie MMM-aande (Memorable Monopoly Madness aande) ‘n poskaart of ‘n bonkige koevert. Sy glo mos nie aan email of Facebook nie.

Sy het ‘n donkerkamer ingerig in die ou spens en ontwikkel self haar eie swart en wit fotos wat sy vir ons pos van haar gesin en lewe daar. 35mm film raak skaars en ek pos ‘n paar rolle ten duurste aan haar soos ek dit in die hande kan kry. Sy gee nou skilder klasse en leer kinders skryf by die sendingkerk se saaltjie, hulle skryf mooi gedigte.

Haar eerste Januarie maand vakansie nadat sy weg is, het sy nog by ons kom kuier. Na klein Hilda-Marie se geboorte het sy nie weer gekom nie, net die pos….dit hou nooit op nie.

Ek’t haar nooit vertel nie, ek wou, maar sy’t my lankal gevra toe ons mekaar leer ken het dat ek moenie. Maar ek wonder soms of ek nie dalk haar Ridder was nie….

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *