Swartskaap

Willie Swart is gebore met ‘n woeste bos krulhare. Sy oupa Willie het hom Swartskaap begin noem, want anders was daar nog ‘n Blackie Swart in die familie….

Swartskaap is die jongste van ses kinders en behalwe vir die feit dat hy die laatlammetjie van die familie was, is hy ook die stoutste van die lot, dus aanvanklik maar Swartlammetjie! Hy het nooit regtig sy streke ontgroei nie, en het Swartskaap gebly. So laat staan ook!

Swartskaap het as vakleerling by die Volksie spesialis op die dorp gaan werk en later aangebly as Volksie spesialis nadat hy sy vakleerlingskap voltooi het. Frikkie, sy baas het hom daardie dag nogal ‘n blou overall met sy naam op geborduur gegee, en tien persent aandeel in die besigheid. Swartskaap was nou ook deels eienaar van “Kewer Mania”, jou vriendelikke Volksie spesialis. Swartkskaap het gedink sy skip het nou ingekom want sy droom was nog altyd om nèt aan hierdie klassieke en legendariese voertuie te werk en hulle aterug lewe toe te dokter en weer mooi te maak. Hy besit glad die hele Herbie DVD versameling en beskou homself eerder as die “Beatle Whisperer”.

Oorkant die pad van “Kewer Mania”, was Herkie se skrootwerf. Hy het die dorp se monopolie in die skroot yster bedryf gehad, en het vir sy dogter ‘n kewer laat opbou by Frikkie vir haar 21ste verjaarsdag.

Sy dogter Santie, was die jaar Skoukoningin. Aanvangklik was sy net eerste prinses, maar nadat haar tweeling sussie Saartjie, wat gewen het, swanger geraak het op die skou dans na die kroning seremonie, het sy die amp aan Santie oorgedra.

Saartjie was nie einlik haar vol sussie nie; maar hierdie is ‘n klein dorpie en blykbaar het Herkie gelyktydig by die Gelderblom susters gekuier op daardie stadium. Die Gelderblom sussies was daardie jare berug as die Aandblom susters in die dorp. Santie se ma het toe met Herkie getrou en Saartjie se ma met ‘n Army Man wat in die bos oorlog gesneuwel het. Die Army Man het ook daardie tyd by Saartjie se ma gekuier.

Santie was eintik helemal bo Swartskaap se vuurmaakplek, maar na haar eerste besoek om die kleur te bespreek van haar kewer wat opgebou word, kon hulle nie ophou om vir mekaar te kyk nie. Santie is daar weg met blink ogies, en Swartskaap het soos ‘n verdwaalde skaap die hele dag rondgeloop met haar nommer, met ‘n geel Bic pen in blou ink geskryf, op haar sneesdoekkie wat sy vir hom gegee het, as hy dalk idees oor die kewer se opbou wou bespreek natuurlik.

Santie het redelik “issues” gehad waarmee sy geworstel het. Haar vorige kêrel Lem, het Saartjie swanger gemaak by die skou dans, en dus is dit moeilik vir haar om iemand weer in haar hartjie in te laat. Sy was baie hartseer hieroor gewees, lank getreur. Lem en Saartjie was so goed soos dood vir Santie van toe af.

Swartskaap was so bietjie van ‘n rowwe jack! Hy het self ‘n kewer gery, het self die 2Liter kombie enjin ingebou. Die ding se enjin het vêr agter uitgesteek, en hy moes lood blokke voor in die neus pak sodat die gedoente nie omflip as hy wegtrek nie. Dit het hom ‘n hele kas brannewyn gekos om die gedoente padwaardig te kry by Oom Pietertjie die spietkop. Oom Pietertjie is Frikkie, Swartskaap se baas, se neef, aan sy ma se kant.

Die opgeboude “Monster Kewer” was sy trots, en naweke het hy die ovaal baan resies liga van die distrik se as bane opgesny met sy kewer met die kombie enjin in. Hy was by al die afterparties die ou wat tot laaste gebly het, en die vermaak verskaf het met sy briek-dans en wurm maneuvers op die opvoutafels.

Santie, meer van ‘n dame, het ‘n kalmte oor hom gebring wat hy nie kon verkaar nie, sy ma ook nie, en dis diè dat hy aanhou by haar gaan kuier het tot sy vir hom geval het. Sy later erken sy het eintlik al vroeg reeds vir hom geval, maar onthou, sy’t “trust issues”, en het haarself net ingehou tot sy seker was oor hom. Hy moes vir SES maande lank net vriende met haar wees voor sy hom die eerste keer gesoen het, daarna baie meer, want Swartskaap is ‘n goeie soener. Dit was seker die hoender kêrrie stirfry op rys en rooi sjampanje wat haar daardie aand laat swoeg het. Hy het haar Baba-Swartskaap genoem, want hy het geglo, mens kan nou en dan jou taal meng, maar mens sê nie “baby” nie!

Hul romanse het geblom, en Swartskaap het minder na afterparties begin gaan, en sy kitaar wat hy in standard sewe vir sy verjaarsdag gekry het weer opgetel en begin tokkel as hy die aand geluide hoor roep in sy kop. Hy het later die “monster-kewer” verkoop aan Frikkie, sy vennoot, en ophou resies jaag oor naweke op die ovaal bane van die distrik. Hy het belê in ‘n meer praktiese gesinskar met die oog op die toekoms en Herkie se ou 2.4 Toyota enkelkajuit bakkie met ‘n beekman kappie oorgekoop. Dit was n lang bak.

Hy het begin liedjies skryf met die ou kitaar en dit vir Santie gesing. Hy’t haar twee of drie jaar later gevra om te trou by die skoudans, en na Knysna gegaan in sy skoonpa se ou bakkie vir die wittebrood.

Hy gaan sing nou wanneer hy tyd kry by plekke, speel verniet of vir drankies, petrol of kos. Hy werk nog by “Kewer-Mania”, maar is nou al bestuurder en het nog 5% aandele by Frikkie gekoop. Diè het Frikkie gedoen met die idée van aftree wat in sy agterkom begin rondrol soos ‘n handvol los moere en boute in die “Monster Kewer” se neus.

Dit was nie lank nie of die tweetjies het begin dink aan ‘n kinders……….Dit was toe, met die nuus van die eersteling, dat Swartskaap besef het dat dit tyd is om groot te word.

Word vervolg in  die volgende hoofstuk…

Ek noem myself Klassik, en hierdie is my stories.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *